Wil jy finansieel onafhanklik wees? Dan moet jy weet hoe om jou belasting reg aan te pak!
Solidariteit se praktiese en bemagtigende #Belasting–webinaar gaan jou wys hoe om jou eie belasting te doen – én dit goed te doen! Of jy pas begin werk het of al ’n paar IRP5’e agter die rug het, hierdie sessie is vir jou!
Belasting is ’n realiteit, maar dit hoef nie vreesaanjaend te wees nie.
Ons gesoute aanbieder Nikki Kennedy wys jou:
- Hoe om jou eFiling reg op te stel en in te dien
- Hoe om te weet of jou outo-assessering korrek is
- Wat jy alles as jong werkende van belasting kan aftrek
- Hoe om jou reisuitgawes reg te hanteer
“Hierdie sessie is jou volgende stap na finansiële selfstandigheid – met belasting as jou beginpunt. Kom leer hoe om jou belasting te verstaan, slim besluite te neem en beheer oor jou geld én jou toekoms te kry!”
Datum: 5 Augustus 2025
Tyd: 18:00
Plek: Aanlyn!
Spreker: Nikki Kennedy
Nikki Kennedy is die programkoördineerder vir die Nagraadse Diploma in Belasting en ʼn dosent in Bestuursrekeningkunde en Belasting by Akademia. Sy het ʼn BCom-graad in Rekeningkundige Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria studeer, asook ʼn honneursgraad in hierdie dissipline aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), verwerf. Sy verwerf ook haar meestersgraad in Belasting aan die Universiteit van Pretoria. Sy praktiseer en het lidmaatskap by CIMA, SAIPA en SAIT.
eFiling, jou vennoot vir gerieflike, vinnige en moeitelose indiening van belastingopgawes!
As jy ʼn besige jong werkende is, is die SAID se eFiling-diens die ideale diens vir jou! Dit is ʼn aanlyn stelsel wat jou in staat stel om jou opgawes 24 uur per dag, 7 dae per week veilig en baie maklik in te dien. Dit bespaar jou tyd en die irritasie van ʼn magdom papierwerk en lang toue.
Belastingopgawes moet vanjaar vanaf 21 Julie tot 20 Oktober 2025 ingedien word. Danksy Solidariteit se Jongwerkende-lidmaatskap kan dit ʼn vinnige en moeitelose proses wees.
Hoe om vir eFiling te registreer:
-
Besoek www.sarsefiling.co.za. Bo in die regterkantste hoek van die tuisblad is ʼn lys van die SAID se eFiling-opsies. Kies [REGISTER NOW].
-
Die eFiling-registrasieskerm sal verskyn. Voltooi jou persoonlike besonderhede en klik [CONTINUE]. Voltooi jou kontak- en intekenbesonderhede en klik [CONTINUE].
-
Indien die besonderhede wat jy ingevul het met die SAID se rekords ooreenstem, sal jy ʼn eenmalige PIN-kode (OTP) ontvang. Vul die OTP in.
-
Indien jy nie die OTP-proses suksesvol voltooi nie, sal jy van voor af met die registrasieproses moet begin.
-
Sodra jy die OTP suksesvol ingevoer het, sal die eFiling-intekenskerm verskyn. Voilà! Jy het suksesvol geregistreer.